Bottel en inlê
geskryf deur Joanita Olivier
Ek wil jou bottel en inlê – net hier waar jy nou is – so bietjie voor vier.
Waar ek jou beste maatjie en Barbie jou “favourite” is.
Waar ons koffietafel jou verhoog is en ek jou gunsteling gehoor is.
Waar jy praat van “hommer” in plaas van honger (en ek jou nie reghelp nie, want dit is net so onweerstaanbaar oulik).
Waar ek elke aand nog weet waar jy is – veilig toegevou langs my met jou toontjies teen my vasgedruk.
Ek wil jou bottel en inlê vir wie jy is: onskuldig, uitgelate, nog sonder hang-ups oor jou lyf.
Hier waar jou hart nog heel is – nog nie in stukkies deur die verwoesting wat ‘n eerste liefde saai nie.
Waar jou grootste seer die doring in jou voet is.
En waar my soene nog genoeg is om elke seer beter te maak.
Ek wil jou bottel en inlê.
Maar ek weet jou grootword, is my laat-gaan.
Ek weet dat party lesse net deur ervaring geleer kan word.
Ek weet daar is iemand daar buite wie jou lig nodig het.
Ek weet daar is iemand daar buite wie se stukkies-hart deur jou liefde aan mekaar gegom moet word.
(Ek bid reeds vir hom.)
(Ek weet ek besit jou nie.)
Ek wil jou bottel en inlê.
Maar teen my sin draai ek jou eerder toe in gebed.
En bid dat jy jou identiteit in Hom sal vind.
Dat Hy altyd jou Ware Noord sal wees.
En teen my sin gee ek jou toestemming om jou rigting in die wêreld te vind.
Al wil ek jou eintlik bottel en inlê.


